Midstreamers besoek Lekkerbreek.
In ideale weersomstandighede het ‘n groep Midstream rolbalspelers vanaf 12 tot 16 Mei 2019 die Lekkerbreek rolbal vakansie oord besoek. Daar is van die kamp fasiliteite asook vakansie kamers gebruik gemaak.
Lekkerbreek personeel het vir die oggend en middag spyseniering gesorg terwyl rolbalspelers self vir die aand etes verantwoordelik was. Lekkerbreek word bedank vir hul goeie diens en almal beaam dat die etes van die hoogste gehalte was. Daar was lekker gekuier en lekker gelag.
Oorgenoeg rolbal is gespeel. Elke oggend om 0900 is ‘n sessie van 16 koppe gespeel waarna daar tot om 14:30 gebreek is. ‘n Volgende sessie van 16 koppe is ingepas voor die aand se gesellige samesyn. Die span het op die laaste dag, na ‘n lekker “brunch” en ‘n prysuitdeling, opgepak en huiswaarts gekeer.
Almal was dit eens dat dit ‘n uiters suksesvolle uitstappie was en het die organiseerders onder leiding van Charmaine Bultman bedank vir hulle reelings. ‘n Bespreking vir volgende jaar is sommer daar en dan gemaak en kan Midstreamers wat belang stel solank 10 Mei 2020 dagboek vir ‘n volgende besoek aan Lekkerbreek.